In ’n samelewing waarin sowat die helfte van huwelike verbrokkel, het baie al beleef hoe geldsake ’n twispunt in ’n egskeiding kan word. Een party kla dikwels te min onderhoud word betaal en ’n ander party kla te veel word geëis. Dis dalk goed om te onthou dat baie min mense finansieel beter daaraan toe is ná ’n egskeiding – een huishouding word immers twee, wat baie koste verdubbel sonder dat die inkomste meer word.Hier is enkele finansiële aspekte wat dié traumatiese tydperk dalk op een vlak makliker kan maak.

Kry hulp nog voordat jy skei 

Jou finansiële stabiliteit het ’n groot uitwerking op jou emosionele toestand. Hoe gouer jy in beheer voel van jou geldsake, hoe meer positief behoort jy dit te hanteer.

Daarom is dit baie belangrik om ’n begroting op te trek wat jou duidelik sal wys waar jou besteding heengaan en wat jou inkomste is.

Kirsten Smit, ’n adviseur-vennoot van Citadel, se raad is om ’n finansiële raadgewer se objektiewe advies te kry sodat ’n omvattende plan opgetrek word om voorsiening te maak vir jou huidige en toekomstige behoeftes.

Dit moet so gou moontlik gedoen word. As jy dit doen voordat die skikkingsonderhandelings begin, sal jy weet wat jou uitgawes en finansiële situasie ná die egskeiding sal wees. Julle kan saam verskeie scenario’s beplan.

Wat kos dit om te skei?

Verskillende egskeidingsprosesse werk vir verskillende situasies.

Jou prokureur behoort die verskillende opsies van litigasie, mediasie of deesdae ook samewerkende egskeidingspraktyk van egskeiding te verduidelik sodat jy as kliënt self kan besluit watter proses jou omstandighede sal pas.

“Prokureurs gaan egter dalk nie altyd al die opsies vir jou gee nie; maak seker jy weet wat dit is.”

“As jy kinders het, is dit belangrik om een aan te stel wat spesialiseer in familiereg, want dis ’n baie spesifieke veld en die persoon moet breedvoerige kennis hê van die Kinderwet van 2005,” waarsku Sunél Beeselaar van SP Beeselaar Prokureurs.

Die tradisionele litigasieproses begin met die uitreik van ’n dagvaarding met een party se eise en die ander party se prokureur wat dit antwoord met ’n kennisgewing van verdediging.

Beeselaar sê hoewel litigasie duur kan wees, is mediasie of samewerkende egskeidingspraktyk nie ’n opsie as jou eggenoot vasbeslote is om male fide (ter kwade trou) op te tree nie. As julle al verskeie onderhandelinge probeer het, maar steeds nie kan skik nie, is litigasie gewoonlik die laaste uitweg.

Na gelang van die hoeveelheid dispute en die aard daarvan kan ’n egskeiding enigiets van ’n paar duisend tot ’n paar hondderdduisend rand kos.

“Streekhowe kan nou egskeidings aanhoor en is meestal gesetel in die plaaslike landdroskantore. Gevolglik is hulle ’n goedkoper forum as die hooggeregshof,” sê sy.

Vir ’n redelik standaard egskeiding waar daar kinders betrokke is en derhalwe ook die opstel van ’n ouerskapsplan, is die koste gemiddeld tussen R10 000 en R15 000.

Mediasie of bemiddeling is wanneer ’n onafhanklike derde party (die bemiddelaar) die partye help om direk met mekaar te kommunikeer en hulle bystaan om op ’n vrywillige en kreatiewe grondslag besluite te neem om hulle dispute op te los.

Beeselaar meen die grootste voordeel van mediasie is dat wanneer julle self tot ’n oplossing kom, dit soveel makliker uitvoerbaar sal wees as wanneer ’n hof of derde party ’n besluit op die partye afdwing.

Samewerkende egskeidingspraktyk behels die samewerking van verskeie professionele persone saam met die paartjie om oplossings te vind met minimale konflik en sonder om die hof te nader.

“Sodoende fokus die prokureurs hul tegnieke en kennis om ’n werkbare oplossing vir die partye te vind. Dit geskied in samewerking met maatskaplike werkers en sielkundiges wat optree as kinderspesialiste en gidse vir die ouers,” sê Beeselaar.

Die twee prokureurs en hul kliënte onderteken ’n kontrak wat duidelik stipuleer dat sou daar geen skikking bereik kon word nie, die prokureurs moet onttrek en dat hulle nie hul kliënte in die hof mag verteenwoordig nie. Die kliënte is wel geregtig om hulle te wend tot litigasie, maar nie met dieselfde regspan nie.

Hou jou gewete skoon

“Die prokureurs kan elke kliëntinstruksie uitoefen en elke moontlike aksie teen die ander party bring, maar dit bly die partye se dispuut. Jy is verantwoordelik vir die keuses wat jy maak.

“Wanneer jy eendag terugkyk, moet jy tevrede kan wees met die manier waarop dit plaasgevind het en hoe dit jou waardes weerspieël het,” sê Beeselaar.

Onderhoud vir kinders, gade

As deel van die skikkingsooreenkoms of as ’n aparte dokument word ’n ouerskapsplan voorberei wat deur albei partye onderteken word en deel vorm van die egskeidingsbevel.

“Albei se ouerlike regte en verantwoordelikhede word daarin gestipuleer, soos onderhoud, kontak en al die besluite wat ouers gesamentlik moet neem in die beste belang van minderjarige kinders,” sê Beeselaar.

Dit is belangrik dat die berekening van onderhoudsvoordele aan inflasie gekoppel word. Onthou ook dat uitgawes soos mediese fondse en skoolopleiding jaarliks met meer as die inflasiekoers styg.

Indien die gade onderhoud kry, moet jy seker maak dat die hof in die skikkingsooreenkoms beveel dat onderhoudsverpligtinge steeds bindend sal wees op die boedel van die gade wat die onderhoud betaal.

Anders beteken dit dat as jou eks-gade sterf, sal jou minderjarige kinders vir onderhoud teen die boedel kan eis, maar nie jy nie.

Só kom aftreegeld in die gedrang

Die waarde van die pensioen-voordeel kan ook betaal word uit ander bates, soos ’n huis of kontant.

Van die ingewikkeldste en mees emosionele aspekte van ’n egskeiding is die verlies van ’n deel van jou aftreevoordele.

Volgens die wet is die gewese eggenoot wat nie ’n lid van ’n aftreefonds is nie, geregtig op ’n deel van die lid se aftreegeld. Dis van toepassing as jy binne gemeenskap van goedere getroud is, asook buite gemeenskap met aanwas.

Dié deel word bepaal deur die egskeidingsbevel en is dadelik uitbetaalbaar. Dit is belangrik om te onthou dat die party wat die voordeel ontvang, die belasting daarop moet betaal.

Die waarde van die pensioenvoordeel kan ook betaal word uit ander bates, soos ’n huis of kontant.

Soré Cloete, senior regsbestuurder by Old Mutual, verduidelik dat wanneer die paartjie binne gemeenskap van goedere getroud is, is die pensioenbelang deel van die gemeenskaplike boedel. As die huwelik buite gemeenskap maar met aanwasbedeling is, word die pensioenbelang gebruik om die aanwas te bereken.

In albei gevalle hang dit van die boedelwaarde af of ander bates gebruik kan word pleks van die pensioenbelang.

“Met binne gemeenskap van goedere is elke party geregtig op 50% van die gemeenskaplike boedel. Die pensioenbelang is deel van dié berekening en as die pensioenbelang (van albei gades) die grootste gedeelte van die gemeenskaplike boedel is, sal dit dalk moeilik wees om nié die pensioen te gebruik nie.”

Vir huwelike met die aanwasbedeling word die aanwaseis bereken tussen gades en die gade met die kleinste aanwas het ’n eis teen die gade met die grootste aanwas. As daar ander bates is, kan dit vir die aanwaseis gebruik word.

Volgens Cloete kan gades ook ’n skikkingsooreenkoms bereik, wat sal reguleer hoe hul bates (wat die pensioenbelang insluit) verdeel gaan word. Die skikkingsooreenkoms sal dan ’n hofbevel in terme van die egskeiding wees.

Cloete sê dis belangrik om te verstaan watter aftreefondswaardes in aanmerking geneem word by egskeiding. Dit is:

  • Pensioen- en voorsorgfonds: die waarde van die fonds indien die lid van die fonds sou onttrek het ten tyde van die egskeiding.
  • Uittree-annuïteit: die waarde van die lid se bydraes tot die UA plus eenvoudige jaarlikse rente teen ’n voorgeskrewe koers. Die rentekoers is tans 9% per jaar.

Sy sê mense wonder dikwels of verpligte annuïteite, dié wat ’n persoon aankoop ná aftrede, as ’n pensioenbelang met egskeiding hanteer word. Dié annuïteite word nie by ’n egskeidingsbevel ingesluit nie.