Dit is absoluut skrikwekkend hoeveel huishoudings gaan onder een of ander tipe geweld van soorte gebukkend. Die Gesinsgeweld Wet van 1998 maak voorsiening dat enige party wat in dieselfde woning woonagtig is die hof kan nader vir ‘n gesinsgeweld interdik. Dit sluit dus getroudes, saamwoonmaats, selfde seks huwelike, kinders, ouma’s en oupa’s in.

Die proses is ‘n vinnige en eenvoudige een om toekomstige oortredings van geweld te voorkom – dit gaan nie oor die historiese misdrywe nie en dit neem ook nie die partye se regte weg om kriminele klagtes te lê by die SAPS nie.Tipes oortredings wat beskerming kan geniet by die hof:

  1. Fisiese geweld – enige vorm of dreigement van geweld. Voorbeelde soos een party wat beheer wie die ander sien of mee praat of betrokkenheid by mense of organisasies. Blameer een vir die geweld – jy het my gedryf daartoe – is jou skuld. Ek sal jou by die welsyn aangee – jy sal die kinders verloor. Trek die aanrandingsaak terug ens.
  2. Emosionele geweld – voortdurend verkleineer en verneder
  3. Seksuele geweld
  4. Finansiele geweld – Om onredelik geld te weerhou van iemand wat finansieel afhanklike is van jou of om hulle te laat smeek vir geld. Dreigemente om hulle uit te sit sonder heenkome. Een wat sy volle salaries vir ander moet gee en dan geen insae het in die finansies.
  5. Intimidasie, skade aan eiendom agtervolging en om woning te betree sonder toestemming.
  6. Geweld teenoor ou mense en teenoor kinders

Oortreders is gewoonlik ook gewelddadig teenoor diere en troeteldiere – hierdie tipe geweld teenoor diere het baie keer daarmee te make om die persoon verder te viktimiseer of stil te hou (maw verder te intimideer).

Indien jy ‘n slagoffer is van een van die bogenoemde gevalle – kan jy jou plaaslike landdroskantoor nader en ‘n verklaring aflê. Indien die hof van mening is dat daar dringende gronde is en dat verdere geweld kan volg sal daar ‘n tydelike interim bevel onmiddellik toegestaan word. Die balju van die hof sal die interim bevel op die oortreder beteken en is dit dan onmiddellik van krag – die oortreder kry dan ‘n datum wanneer hy/sy by die hof moet verskyn en hulle kant te kom stel. Die hof sal getuienis aanhoor en word die bevel dan of finaal gemaak of gekanselleer.

Die hof het wye bevoegdhede van watter tipes beperkinge hulle op ‘n persoon mag plaas in terme van hierdie interdik – byvoorbeeld:

  • Jy mag nie die persoon se huis of werksplek betree nie
  • Mag nie die persoon intimideer nie
  • Bevel maak dat ‘n polisiebeampte saam met jou gaan om jou persoonlike besittings te gaan haal
  • Bevel dat oortreder uit die huis moet trek tot die hof dit kan aanhoor
  • Bydrae te maak tot basiese behoeftes
  • Betaling van die huur/paaiement van die huis
  • Wapens te konfiskeer
  • Kontak met kinders op te skort

Dit is veral die bepalings om bydraes te maak tot finansiele benodighede wat nou die partye kan help – vroeër was dit een van die hoofoorsake hoekom mense juis nie hierdie roete gevolg het nie want hulle is finansieël afhanklik van die oortreder.

As die bevel oortree word gaan jy polisie toe om die lasbrief vir arres te laat uitoefen. Die polisie kan die oortreder dadelik arresteer – straf kan boetes asook tronkstraf vir ‘n maksimum periode van 5 jaar.

Daar is natuurlik ook mense wat die proses misbruik en sodoende word ouers soms weerhou daarvan om hulle kinders te sien totdat die saak uiteindelik voorkom en getuienis gelewer kan word. ‘n Party kan in baie groot moeilikheid beland as die hof uitvind dat die sisteem misbruik is en daar nie werklike gronde vir die bring van die aansoek was nie.

Partykeer is die mishandelde party eenvoudig net te bang of nie in staat om die hof te nader nie en in sulke gevalle kan iemand soos ‘n maatskaplike werker of polisiebeampte names die persoon die aansoek bring.

Indien jy enige vrae het oor die interdik of die proses om te volg is julle welkom om ons kantore te skakel vir die nodige bystand hierin.