Niemand hou daarvan om aan die dood te dink nie, maar ons hoor elke dag van mense om ons wat te sterwe kom – jonk en oud weens siekte of ongelukke. In die lewe is ons net verseker van twee dinge – 1)Belasting en 2)Dood. Om te verseker dat jou wense op ‘n duidelike wyse geskied is dit belangrik om ‘n regsgeldige testament op te stel en te verseker dat jy nie intestaat te sterwe kom nie.

Wat gebeur as jy intestaat tot sterwe kom?

Dit sal beteken dat jou bloedverwante jou erfgename is. Indien jy getroud is sal jou man/vrou (gade) die boedel erf. Indien daar kinders is sal die gade sowel as die kinders erf in ‘n bepaalde verhouding. Die gade ontvang die grootste deel van R250 000 of ‘n kindsdeel. (Kindsdeel beteken jy deel die omvang van die boedel in die getal kinders plus een)

Indien daar geen gade is nie sal die kinders of anders kleinkinders alles erf en indien daar geen kinders of kleinkinders is nie sal die oorledene se ouers erf. Indien geen ouers nog lewe nie sal dit sydelings vererf maw na broers en/of susters en daarna hulle kinders of kleinkinders. Dit word opgesom as erflatings staaksgewys deur representasie.

Indien kinders wat so erf onder 18jaar oud is sal hulle erflating na die Voogdyfonds gaan totdat hulle mondig word. Daar kan dan van die fonds geeis word vir onderhoud soos skool en studies en moet dit gemotiveer word. Die ander ouer het dan nie beheer oor die fondse nie.

Indien erflatings in die voogdyfonds na 30 jaar nie opgeeis word nie sal dit aan die staat verbeurdverklaar word.

Die belangrikheid van Testamente

‘n Testament sit uiteen aan wie jou besittings nagelaat word wanneer jy tot sterwe kom. Die testament moet baie duidelik uiteensit wat jou wense is sonder om verwarrend of dubbulsinnig te wees en sodoende te verseker dat jou erfgename nie na jou dood in duur en uitgerekte lititgasie betrokke raak om te probeer bewys presies wat jou bedoeling was nie. Wat is die verskil tussen legatarisse en ergename? Legatarisse bemaak jy ‘n spesifieke bate bv my motor of R100 000.00. Erfgename is wanneer jy die restant of hele boedel aan die persoon bemaak.

Testamente moet gereeld hersien word. Ek raai gewoonlik kliënte aan om met elke gebeurtenis in hulle familie net te dink of daardie troue, geboorte, sterfte, emigrasie, mondigwording ens moontlik die testament kan beinvloed en indien wel moet dit hersien word.

Testamentêre Trusts

Indien jou erfgename nog minderjarig is moet daar liefs voorsiening gemaak word vir ‘n testamentêre trust aangesien die erflating nog nie deur die minderjarige beheer kan word nie. Jy moet dus in jou testament ook die nodige trustees aanwys. Wees hier maar baie versigtig met wie jy aanwys as trustees en dat jy hulle kan vertrou om na jou dood met daardie bates te handel soos jy dit sou wou hê. Dit is baie wys om ‘n objektiewe professionele persoon soos jou prokureur en of boekhouer vir die doel saam aan te stel.

Meld ook duidelik in jou testament dat enige erflating uitgesluit sal wees van ‘n huwelik binne gemeenskap van goed om te verseker dat dit nie in die hande van die skoonseun of skoondogter val nie.

Eksekuteur

Die eksekuteur moet aangewys word in jou testament en ook of die eksekuteur vrygestel word om sekerheid te stel. Die eksekuteur is die persoon wat uitvoering moet gee aan die bepalings van die testament en verseker dat al die wetlike aspekte uitgevoer word. Dit moet verkieslik ‘n kundige persoon wees wat die nodige likwidasie en distribusie rekening by die Meester van die Hooggeregshof kan indien.

Eksekuteursvergoeding is standaard 3.5% van die batewaarde van die boedel.

Vereistes

Die testament moet behoorlik onderteken word in die teenwoordigheid van die 2 getuies en ook die plek en datum aandui waar dit onderteken is. Daar moet ook gemeld word dat dit alle vorige testament, kodisille of ander testamentêre geskrifte herroep.

Identifiseer behoorlik die erfgename en legatarisse.

Boedelbelasting

Boedelbelasting word bereken op 20% van die netto bates in die boedel minus ‘n primêre korting van 3.5 miljoen. Kapitaalwinsbelasting is ook van toepassing op sekere bates bv die 2de en 3rde eiendomme.

Dit is belangrik om te weet dat geen boedelbelasting en of kapitaalwinsbelasting betaalbaar is op die deel van die boedel wat aan die langslewende eggenoot nagelaat word nie.

Mites

  • Testateurvryheid beteken dat jy enige iets in jou testament mag sê. Dit is onwaar – jy mag geen bepaling maak wat contra bonos mores (teen die openbare sedes) is nie. Jy kan bv. nie bepaal dat jou dogter alles sal erf wanneer sy ‘n doktors graag behaal en met ‘n blanke ingenieur trou nie.
  • ‘n Kind het ‘n reg om te erf van sy ouers – Nee – daar is geen so ‘n inherente reg nie – kinders (minderjariges of student) kan wel ‘n onderhoudseis instel teen die boedel. So ook die langslewende gade indien daar geen voorsiening in die testament vir die gade gemaak is nie. Hierdie onderhoudseise asook eise in terme van huweliksbedeling geniet voorkeur bo erfgename en legatarisse

Belangrike informasie

Dink mooi oor die bepalings wat jy maak – bv al my kinders erf in gelyke dele – indien daar slegs ‘n huis is sal dit verkoop moet word om die geld in gelyke dele te betaal.

Maak voorsiening vir genoeg kontant om die boedeladministrasie te kan dek anders sal die bates verkoop en te gelde gemaak moet word om dit te kan betaal.

Indien partye binne gemeenskap van goed getroud is – onthou dat die oorblywende gade se rekeninge ook gevries gaan word en oorgedra word na die boedelrekening – dit kan ‘n hele paar maande duur voordat die eksekuteur aangestel is en die rekening open so maak voorsiening vir jou geliefdes vir daardie interim periode met spesifieke polisse of doodsdekking wat kan uitbetaal.

Wat is ‘n Lewende Testament?

Dit is ‘n dokument wat bepaal wat jou wense is sou jy in ‘n ongeluk beseer word of ‘n siekte opdoen waarin jy bewusteloos raak of in ‘n koma is. Wat sal jou wense wees in so ‘n geval – sal jy kunsmatig aan die lewe gehou moet word deur die masjiene en ventilators.

Vermy eerder die gekoopte Testament by die skryfbehoefte winkel en verkry kundige advies rakende boedelbeplanning. Dit is uiters noodsaaklik en baie meer bekostigbaar as die gevolge van geen testament of verwarrende onduidelike testament.

Kontak ons gerus vir enige bystand of advies.