Wat behels Kuratorskap? ‘n Persoon word aangestel deur die hof om die boedel van ‘n persoon namens daardie persoon te hanteer en te administreer. Prokurasies of volmagte is nie meer geldig wanneer die persoon wat die prokurasie of volmag verleen het geestesongesteld raak nie.

Kinders of afhanklikes verkry volmagte in die periode wat die persoon siek word om namens hulle die bank en ander administratiewe sake te behartig. Ongelukkig is dit slegs geldig terwyl die persoon compus mentis is – by sy volle verstand om intruksies te verskaf aan die gevolmagtigde bv wanneer die persoon in die buiteland of hospitaal verkeer. As die persoon dus nie meer opdragte kan gee nie moet die volmag verval en sal ‘n kurator aangestel moet word.Dit gebeur dikwels by Dementia en Alzheimer pasiënte.Kuratorskap bestaan uit drie fasette. 1) Die aanstel van die Kurator ad Litem. Dit is gewoonlik ‘n advokaat of ander professionele regspersoon wat aan ‘n professionele liggaam behoort. Die Kurator ad Litem moet die nodige ondersoek doen om vas te stel of die kuratorskap geregverdig is en of hulle saamstem met die doktersbevindinge. Hulle berei dan ‘n volledige verslag voor vir die hof.2) Die aanstel van die Kurator Bonis. Die Kurator ad Litem bevel ‘n Kurator Bonis aan welke dan deur die hof aangestel word om na die finansies van die persoon om te sien. Hulle bestuur die boedel en bates dan namens die Kuratele persoon. Dit kan ‘n familielid wees of anders ‘n hofaangestelde kurator wat gewoonlik oor regsagtergrond sal beskik.

3) In die geval waar daar geen familie is nie kan die hof ook ‘n Kurator Personae aanstel wat moet besluit waar die pasiënt woon, watter dokter hom of haar besoek ens. Dit is in baie gevalle die Kurator Bonis wat ook hierdie funksie verrig.

Reel 57 van die Hooggeregshof reels bepaal die prosedure en hofaansoek om ‘n Kurator te laat aanstel. Die aansoek word gemaak deur middel van ‘n beeidigde verklaring deur ‘n persoon wat ‘n direkte belang het by die pasiënt en oor die nodige inligting beskik. Dit kan ‘n familielid of selfs die pasiënt se dokter wees. Hierdie verklaring word vergesel van 2 mediese verklarings – gewoonlik ‘n sielkundige/psigiater en ‘n mediese dokter of neuroloog wat bevestig dat die pasiënt nie in staat is om self na hulle finansies en belange om te sien nie.

Die kostes van sodanige aansoek word uit die pasiënt se boedel betaal –daar mag egter direkte uitgawes wees wat voor die tyd betaalbaar is en dan later uit die boedel verhaal kan word.

Hierdie tipe aansoeke is baie ernstig en word nie sommer net deur ‘n hof toegestaan tensy die hof baie seker is dat dit noodsaaklik is en die korrekte persone aangestel word nie. Dit is ook nie ‘n vinnige aansoek nie aangesien verskeie verslae eers verkry en voor die hof geplaas moet word. Indien een van jou geliefdes met Dementia of Alzheimers gediagnoseer word skakel ons gerus vir meer inligting.